Ons leer jou dié week meer oor landbou in Egipte.Die vroeë Egiptiese beskawing het in ’n woestyngebied floreer danksy die magtige Nylrivier.
Die rivier se jaarlikse oorstroming, wat vrugbare slyk agtergelaat het, het gesorg dat kleinboere genoeg kos vir die farao se hele koninkryk kon verbou. Hulle kon onder meer stapelvoedsel soos koring en gort kweek. Die meeste mense op die dorpies was boere. Daar was ook boere in die stede saam met vakmanne, handelaars en ander werkers en hul gesinne.
PLOEG EN SAAI
Die boere in ou Egipte het nie sterk ploeë nodig gehad om die grond om te dolwe nie. Die vrugbare slyk is ná die jaarlikse vloed bo-op die landerye afgeset en dit was net nodig om dit ligweg met ’n ploeg, wat sommer aan ’n bees se horings vasgemaak is, om te dolwe.
Anders het die boer die ploeg self getrek of die grond omgespit. Saad is dan in die vore gesaai. As die gesaaides mooi opkom, het belastinggaarders net voor die oes kom vasstel hoeveel daarvan aan die farao as belasting moes gaan.
OESTE
Die oestyd was van Maart tot Mei. Langsteelplante soos koring, gort en vlas is met ’n sekel afgesny en in bondels saamgebind sodat dit van die landerye weggedra kon word. Vroue en kinders het ná die maaiers met hul sekels gevolg.
Hulle het die koringare opgetel wat geval het. Die boere het hul beeste gebruik om oor die geoeste koringare te loop om die graan uit die are te kry. Die koring is daarna gewan.
Dit beteken dis in die lug gegooi sodat die wind die koring kon skei van die ligter kaf wat weggewaai het.
Die koring is dan tot meel gemaal om brood mee te maak. Die gort is gebruik om bier te brou. Die Egiptenare het vlas gebruik om tou of linne vir klere te maak. Ander oeste het uie, preie, kool, komkommer, bone, lensies, blaarslaai, spanspek, vye, granate, dadels en druiwe ingesluit.


Vrugtebome, blomme en groente is in tuine aangeplant. Die olyfboom was belangrik omdat hulle die olywe kon eet én olie daarvan kon maak om mee te kook en in hul lampe te gebruik. Plante is ook vir medisyne en in godsdienstige rituele gebruik. Die papirusplant was vir die Egiptenare baie belangrik. Hoewel dit wild naby die Nylrivier gegroei het, is papirus ook aangeplant. Die wortel kon as voedsel geëet word, terwyl die stam gebruik is om bote, sandale, tou, matte en papier van te maak.
Die ou Egiptiese boere het diere aangehou soos beeste, bokke, varke, eende en ganse. Later, in die Ptolemeïese Ryk van 2 300 jaar gelede, het die Egiptenare by die Grieke geleer om hoenders by hul dieet te voeg. Die Egiptenare het bye aangehou vir heuning (omdat hulle nie suiker gehad het nie) en vir byewas.


BESPROEIING
Die Egiptenare het die jaarlikse opwelling en wegsakking van die Nyl se water tot hul voordeel benut. Die kleinboere het kanale gegrawe en keerwalle aangebring om die vloedwater van die woongebiede weg te keer en dit na die landerye af te voer. ’n Uitvindsel wat baie nuttig was in hul besproeiingstelsel, is die sjadoef. Dit was ’n hefboom (’n paal wat op ’n steunpunt rus) met ’n emmer aan die een punt en ’n teengewig aan die ander punt. Die Egiptiese boere kon die sjadoef gebruik om put- of rivierwater met die emmer op te lig en oor te lei na die kanale en vore van hul landerye.
NYLSEISOENE
Die Egiptenare se landbouaktiwiteite is rondom die jaarlikse oorstroming van die Nyl aangepas. Die drie seisoene wat hulle in ag geneem het, was:
- Akhet: die vloedseisoen (Junie tot September), het elke jaar gevolg ná swaar somerreën op die Ethiopiese hoogland. Die Nyl het dan sy oewers oorstroom en die landbougrond was 1-2 m onder water.
Landbouaktiwiteite het in dié tyd heeltemal stilgestaan. Die boere het dan vir die farao gewerk deur te help om tempels en piramides te bou. Hulle het ook hul gereedskap reggemaak, hul diere versorg en visgevang of bokke in die woestyn gaan jag om hul dieet aan te vul. - Peret: die groeiseisoen (Oktober tot Februarie), het gekom wanneer die water teruggesak en die vrugbare swart slyk agtergelaat het. Die boere het dan geploeg en hul oeste aangeplant.
- Shemu: die oesseisoen (Maart tot Mei), het nie net die oes behels nie; dit was ook die tyd wanneer saad versamel is om die volgende jaar aan te plant. Graan is in dié tyd in groot silo’s gebêre, en die boere het hul kanale en vore reggemaak voor die volgende vloed kom.


ASWANDAM
Die Egiptiese regering het die Aswandam in die Nylrivier sowat 800 km suid van die hoofstad, Kaïro, gebou. Dit is in 1970 voltooi en sedertdien word die Nyl se jaarlikse oorstroming goed beheer. Die water word vir besproeiing gebruik, maar ongelukkig gaan die landbougrond se vrugbaarheid agteruit omdat daar nie meer swart slyk saam met die water neergeset word nie. Die dam se hidroëlektriese kragaanleg wek enorme hoeveelhede elektrisiteit vir Egipte op.

Guinness World Records gee die Nyl aan as die wêreld se langste rivier, maar gee toe afhangend van hoe jy meet, kan die Amasonerivier in Suid-Amerika ook die langste wees.
Van sy verste stroom in Burundi tot by die riviermondig in Egipte strek die Nyl 6695km ver. As die Amasone tot by die verste van talle riviermonde gemeet word, is hy 6760km lank.
MODERNE LANDBOU
Net 3% van Egipte se grondoppervlak is deesdae bruikbaar vir die landbou.
Hierdie landbougebiede is beperk tot die Nyldal en Nyldelta, asook verspreide oases. Die landbou is nietemin ’n belangrike sektor in die Egiptiese ekonomie en verskaf werk aan sowat ’n kwart van die hedendaagse arbeidsmag. Die regering probeer met die bou van besproeiingskanale, soos met sy Toshka-projek, dele van die woestyn vir die landbou ontsluit. Egipte se belangrikste moderne landbouprodukte is katoen, suikerriet, mielies, rys, koring, aartappels, vrugte en groente. Weens ’n gebrek aan weiding is veeteelt van voer afhanklik. Beeste en waterbuffels dien veral as werkdiere, terwyl skape en bokke vleis en melk verskaf.
