
Suid-Afrika het nie minder nie as nege wêrelderfenisgebiede – ons kuier by almal.
‘n Mens hoor kort-kort in die nuus van wêrelderfenisgebiede. Jy het dalk een in jou provinsie, maar weet jy wat dit regtig beteken?
Wêrelderfenisgebiede is plekke met ’n unieke of baie uitsonderlike belang vir die hele mensdom. Dit kan kultureel of geskiedkundig wees soos die piramides in Egipte en die Groot Muur van China, of ’n natuurverskynsel, soos die Grand Canyon in Amerika.
Daar is meer as 800 wêrelderfenisgebiede ter wêreld waarvan nege in Suid-Afrika is. Die Verenigde Nasies (VN) se organisasie vir opvoedkunde, wetenskap en kultuur (Unesco) help omwaardevolle kulturele en natuurlike erfenisse vir die mensdom te eien en te bewaar. Unesco se wêrelderfeniskomitee wys dié gebiede aan.
Die komitee werk streng volgens die bepalings in die wêrelderfeniskonvensie. Wanneer ’n plek tot wêrelderfenisgebied verklaar word, hou die VN toesig om toe te sien dat dit beskerm en goed bestuur word. Die land waarin dit val, kan indien nodig by ’n noodfonds aansoek doen om geld om hom met die beskerming te help.
Die voorwaardes vir wêrelderfenisstatus is ingewikkeld, maar ’n mens kan dit so opsom:
’N KULTUUR-ERFENISGEBIED
Dit beeld ’n belangrike fase van ontwikkeling in die geskiedenis van die mensdom uit. Dit kan wissel van belangrike argeologiese opgrawings tot ’n besonderse gebou, soos die Inkastad Machu Picchu in Peru.
’N NATUUR-ERFENISGEBIED
Dit bevat ’n unieke of uitsonderlike natuurverskynsel soos ’n besonderse bergreeks. Dit sluit ook die lewende natuur in soos interessante of skaars ekostelsels. ’n Voorbeeld is die Groot Barrière-rif in Australië.
WAT BETEKEN DIT?
Wêrelderfenisstatus is eintlik soos ’n sertifikaat of plaatjie wat sê: Dié gebied bevat ’n kosbare stuk geskiedenis van die wêreld of die mensdom en ons waarborg dit word goed bewaar. Dit maak alles deel uit van pogings wêreldwyd om skatte uit die verlede en die hede na waarde te skat en vir die nageslag te bewaar.
KAAPSE BLOMMERYK (2004)
Die fynbosstreek van die Wes- en Oos-Kaap staan bekend as die Kaapse Blommeryk. Dit sluit agt bewaringsgebiede in, waaronder die Kirstenbosch- Nasionale Botaniese Tuin, die De Hoop-natuurreservaat en die Tafelberg Nasionale Park tot by die Kaappunt-natuurreservaat.

Dit beslaan 553 000 hektaar en bevat een van die grootste plantspesierykdomme ter wêreld – sowat 9 600 plantsoorte, waarvan 6 000 inheems is.
Dis veral bekend vir fynbos, wat eie is aan die Kaap. Fynbos se afhanklikheid van veldbrande om voortte bestaan asook die manier waarop insekte die saad versprei, is van wetenskaplike belang.
Van die ses blommeryke op aarde val net die Kaapse ryk in een land. Maar dit word die meeste bedreig deur landbou, indringerplante, verstedeliking en erosie.
RICHTERSVELD (2007)
Die Richtersveld- kulturele en botaniese landskap in die Noord-Kaap is ’n pragtige, ongerepte streek van meer as 160 000 hektaar en is die tuiste van die grootste versameling inheemse vetplante ter wêreld.
Dis een van die redes waarom dit in 2007 ’n Wêrelderfenisgebied geword het. Nog ’n rede was om die leefstyl te beskerm van die Nama-bevolking wat in die gebied bly. Hul vee se weidingspatroon ondersteun die biodiversiteit van die gebied.
Die Richtersveld is een van Suid-Afrika se veelsydigste streke. Die landskap wissel van plat en sanderig langs die kus en bergagtig dieper in die binneland tot groen en welig al langs die Oranjerivier (ook as die Gariep bekend).
Die Ai-Ais/Richtersveld-oorgrenspark wat Suid-Afrika met Namibië deel, is ook hier geleë. Dit is ’n vredespark – ’n plek waar mense en diere vry oor landsgrense kan beweeg.
Vredesparke beskerm diere se bewegingspatrone, moedig ekonomiese ontwikkeling aan en bevorder bande tussen lande.
Die Richtersveld is die tuiste van 33 plante wat nêrens anders in die wêreld aangetref word nie. Dit bied beskerming aan een van die planeet se mees bedreigde plante, die basterkokerboom (Aloidendron pillansii).

’n Ander boom, die halfmens (Pachypodium namaquanum), se dik, onvertakte stam word sowat 2,5 m hoog en lyk van ver af soos ’n mens. Dis ’n bedreigde spesie en word streng beskerm.
Die Nama-sprekers van die Richtersveld is waarskynlik afstammelinge van die San en die Khoi-Khoi. Hulle het in die verlede ’n nomadiese leefstyl gevoer en rondgetrek op soek na beter weiding vir hul vee en om oorbeweiding te voorkom.
Vandag is dié groep trots op hul kultuur, taal en gebruike. As geskrewe taal gebruik hulle Meestal Afrikaans, maar jy sal steeds die kenmerkende klikgeluide van Nama in die Richtersveld hoor. Dis ’n baie warm gebied – in die somer kan dit bedags warmer as 50 °C wees!
MALOTI-DRAKENSBERG-PARK (2000)
Dié natuurreservaat van sowat 240 000 hektaar naby die grens van KwaZulu-Natal en Lesotho is ’n dramatiese gebied met steil kranse, diep skeure en valleie en helder riviere.

Die riviere, vleie, inheemse bosse en graslande bevat ’n groot verskeidenheid diere en plante, waaronder bedreigde spesies soos kraanvoëls en blouswaels.
Die afgelope sowat 40 jaar is meer as 35 000 rotstekeninge in 600 grotte en skuilings hier gevind. Dis die grootste en mees gekonsentreerde rotskunserfenis suid van die Sahara.
Die San-mense het dit oor ’n tydperk van 4 000 jaar geskilder en die kunswerke is besonder duidelik, veelsydig en leersaam. Daarom is die oorgrenspark nie net ’n natuurwêrelderfenisgebied nie, maar ook ’n kultuurgebied.
ISIMANGALISO-VLEILANDGEBIED (1999)
iSimangaliso beteken “asemrowend” en “wonderwerk” in Zoeloe en met 280 km ongerepte kuslyn en 328 000 hektaar natuurskoon is dit maklik om te sien hoekom die park hierdie naam gekry het.
Hierdie park in KwaZulu-Natal strek van Mapelane (Kaap St. Lucia) in die suide tot by Kosibaai op die Mosambiekse grens in die noorde.
In die gebied is ’n groot verskeidenheid koraalriwwe, strande en duine, kuswoude, sout- en varswatermoerasse, groen vlaktes en droër boswêreld, en natuurlik die St. Lucia-meer waar vyf verskillende ekostelsels bymekaarkom.
En afgesien van die mees suidelike seekoeie in die wêreld en ’n klomp krokodille is daar natuurlik ’n magdom plante en diere in dié bewaringsgebied.

VREDEFORT-KOEPEL (2005)
Die Vredefort-koepel is die oudste en grootste meteoriet-impakgebied ter wêreld – en die bes bewaarde een.
Wetenskaplikes skat dat dit om en by 2 000 miljoen jaar gelede ontstaan het toe ’n meteoriet groter as Tafelberg die Aarde getref het naby waar die dorp Vredefort in die Vrystaat vandag is.

Die slag het waarskynlik die meeste energie op een slag vrygestel in die geskiedenis van die Aarde – soveel dat omtrent 70 kubieke kilometer klip eenvoudig verdamp het!
Die gebied lyk soos ’n gebroke sirkel heuwels met valleie tussenin, maar is eintlik ’n yslike krater met ’n deursnee van sowat 40 km wat gevorm is toe die meteoriet die Aarde getref het.
Wetenskaplikes meen die oorspronklike krater was tussen 250 en 300 km in deursnee, maar intussen het erosie daaraan weggevreet.
WIEG VAN DIE MENSDOM (1999)
Dié wêrelderfenisgebied in die weste van Gauteng en in die provinsie Noordwes spog met meer as 30 grotte met fossiele – versteende organismes wat wys hoe mense, diere en plante miljoene jare gelede gelyk het.

Daar is byvoorbeeld oorblyfsels van homoniede (mense, voormense en groot ape) wat meer as drie miljoen jaar gelede geleef het.
Daar was ook in 2013 die opspraakwekkende ontdekking van die uitgestorwe mens Homo naledi.
Elders in Afrika is daar soortgelyke vondste, maar nêrens so baie soos in die Wieg van die Mensdom nie.
Baie van die oorblyfsels word doelbewus onaangeraak gelaat sodat besoekers kan sien hoe dit oorspronklik gelyk het.
Van die belangrikste ontdekkings in die gebied was by:
- Kromdraai – Die eerste oorblyfsels van Paranthropus robustus, ’n soort aapmens, is in 1938 hier gevind.
- Bolt’s Farm – Mikro-dierelewe vanmeer as 4,5 miljoen jaar oud is gevind.
- Gladysvale – Hier is oorblyfsels van hominiede, diere- en plantelewe wat tot drie miljoen jaar oud is.
- Taung – Dis die tuiste van die Taung-kind, ’n fossiel wat in 1924 wêreldaandag op Afrika as oorsprong van die mens gevestig het. Taung is sowat 300 km ver in Noordwes, maar maak amptelik deel van die Wieg uit.
- Sterkfontein – Mev. Ples (1947), ’n hominiedeskedel van sowat 2,6 miljoen jaar oud, en Kleinvoet (1994), tussen twee en drie miljoen jaar oud, is hier gevind.
- Swartkrans – Hier is bewyse van die vroegste doelbewuste gebruik van vuur omtrent 1,3 miljoen jaar gelede.
- Drimolen – Sowat 30 voorbeelde van mensape en vyf van Homo sapiens (die enigste oorlewende mensspesie) is in 1994 hier ontdek.
- Rising Star – Vyftien fossiel-geraamtes van die uitgestorwe mensspesie Homo naledi is in 2013 hier gevind, en wetenskaplikes sê sowat 1 500 wag nog om uitgegrawe te word . . .
MAPUNGUBWE (2003)
Lank, lank gelede, voor stede soos Kaapstad in Suid-Afrika gevestig is, was daar ’n hoogs ontwikkelde koninkryk op’n koppie in wat vandag as Limpopo bekendstaan.
Die koninkryk van Mapungubwe het tussen 1075 en 1220 by die samekoms van die Shashe- en die Limpoporivier gedy. Die naam Mapungubwe beteken “plek van die jakkals” of “heuwel van die jakkals”, hoewel dit ook herinner aan die Venda- en Tsongawoorde vir “plek van die groot rotse” of “die heilige plek”.
Die opgrawings op die Mapungubwe-koppie leer ons heelwat van hoe mense in daardie tyd geleef het. En jy sal verstom wees oor hoe baie hulle daardie tyd al geweet het!
DIE K2-GEMEENSKAP (1000-1220)
Die voorlopers van die Mapungubwe-koninkryk was die Khoi-inwoners van die K2-gemeenskap, wat deur sommige die Luiperdskop-gemeenskap genoem word.
Die oorblyfsels van die K2-gemeenskap is ’n entjie suidwes van Mapungubwe gevind. Dit was ’n dorpie waar suksesvolle boere en handelaars gewoon het. ’n Mens kan dit agterkom uit die glaskrale en erdewerkskerwe wat daar opgegrawe is.
Die gemeenskap het op sowat vyf hektaar grond gewoon en ’n gemeenskaplike veekraal en vullishoop gehad. Toe die grond te min word vir die sowat 1 500 mense, het baie van hulle na Mapungubwe verskuif.
Omdat die mense van Mapungubwe en K2 geen geskrewe stukke nagelaat het nie, maak argeoloë hul gevolgtrekkings oor dié gemeenskappe aan die hand van opgrawings.
DIE MENSE VAN MAPUNGUBWE
Die inwoners van K2 het na die gebied getrek omdat dit ’n vrugbare landboustreek was, met volop water in die Limpopo. Daar was baie olifante, wat ivoorhandel moontlik gemaak het, asook goud, wat ’n gewilde ruilmiddel was.
Volgens die argeoloë wat die oorblyfsels van die paleisperseel en twee dorpies gevind het, was die mense daar glad nie primitief nie. Hulle wasmoontlik die eerste groep mense in Afrika wat volgens ’n klassestelsel gewoon het.
Die leiers, soos die koning en hoofmanne, het bo-op die koppie in huise met klipmure gewoon, terwyl die gewone mense onder die heuwel in eenvoudiger huise gebly het.
Die oorblyfsels van die nedersetting wys boonop dit was dalk die eerste gemeenskap in Afrika met godsdiensleiers, asook die eerste gemeenskap met spesialis-vakmanne soos pottebakkers.
Hulle het dus nie almal met vee geboer nie; sommiges het hul handwerkprodukte vir lewensmiddele geruil. Heelwat artefakte soos erdepotte, glaskrale en brons- en goue ornamente is gevind, asook geglasuurde erdewerk uit China en goeie materiaal uit Indië.
Dit wys die gemeenskap het kontak met handelaars uit Afrika en die Ooste gehad, en het moontlik ivoor en goud vir hierdie ware verruil. Niemand is presies seker hoekom die gemeenskap van Mapungubwe die gebied verlaat het nie.
Argeoloë vermoed dat droogte verskeie opeenvolgende oeste laat misluk het en dat die gemeenskap noodgedwonge ’n nuwe blyplek verder noord moes vind.

HOE IS DIT HERONTDEK?
Nadat die laaste mense van Mapungubwe die koninkryk omstreeks 1220 verlaat het, het die terrein eeue lank vergete gebly en het niemand die koppie besoek nie.
Maar die mondelinge legendes van Mapungubwe, soos die ligging van die koninkryk, is deur sekere inheemse kultuurgroepe van geslag tot geslag oorgedra. Op Oujaarsaand 1932 het ’n boer van die omgewing, E.S.J. van Graan, glo saam met sy seun gaan ondersoek instel nadat hulle legendes oor die koninkryk gehoor het.
Drie ander avontuursoekers het daarvan te hore gekom en saam met die Van Graans die koninkryk gaan soek. Omdat die heuwel steil wande het, is dit nie so maklik om bo uit te kom nie.
Een van die plaaslike inwoners wat die geheim by sy voorvaders geleer het, het die mans glo gewys waar die houtpale is wat as leer gebruik is om die heuwel uit te klim. Die houtpale is later deur argeoloë gebruik om te bepaal dat die nedersetting sowat 1 000 jaar oud is.
Bo-op die heuwel het die mans oorblyfsels van ysterwerktuie, koperdraad, glaskrale en goue artikels gekry. Onder die goue artikels was die bekende goue renoster wat die simbool van Mapungubwe geword het. Die mans het glo eers die artikels vir hulleself gehou, maar is later oorreed dat die koninkryk ’n nasionale skat is en dat die artefakte bewaar moet word.
Die Van Graan-seun was ’n Tukkie-student en het sy argeologiedosent, prof. Leo Fouché, van hul ontdekking vertel.
Dié het die waarde van die vonds besef. Die plaas Greefswald, waarop die koninkryk gevestig was, is daarna deur die staat gekoop en die Universiteit vanPretoria het nog opgrawings op die terrein begin doen.
Die koninkryk word tot vandag as een van die belangrikste argeologiese vondste in Suid-Afrika beskou en is deesdae deel van die Groter Mapungubwe-oorgrenspark omdat dit by die grens van Suid-Afrika, Botswana en Zimbabwe is.
VINNIGE FEITE
- Die argeoloë het meer as 20 geraamtes op die heuwel opgediep.
- Die volwassenes is met glaskrale ter ruste gelê, terwyl baie belangrike mense saam met goue artikels begrawe is.
- Twee van die geraamtes was moontlik dié van die koning en koningin van Mapungubwe. Die koning is met ’n houtkopstuk, sy goue septer, ’n goue bak en ’n goue renoster begrawe, en die koningin saam met 100 goue armbande.
DIE ORDE VAN MAPUNGUBWE
Toe die regering in 2002 ’n naam soek vir die hoogste eerbewys wat hulle kan toeken, het hulle op die Orde van Mapungubwe besluit. Die bewys word toegeken aan mense wat internasionaal presteer in iets wat tot Suid-Afrika se voordeel strek.
Dit kan net deur die president van Suid-Afrika toegeken word, en die eerste ontvanger daarvan was wyle oudpres. Nelson Mandela. Die goue renoster, ’n simbool van krag en mag, kan in die ontwerp van die eerbewys gesien word.
ROBBENEILAND (1991)
Wanneer ons die naam Robbeneiland hoor, dink baie van ons heel eerste aan wyle oudpres. Nelson Mandela wat jare lank daar ’n gevangene was. Maar nog lank voor politieke gevangenes daar aangehou is, was dié piepklein eilandjie in Tafelbaai al ’n plek van afsondering en gevangenskap.
Meer as 350 jaar lank is politieke aktiviste, sosiale uitgeworpenes en siekes soontoe gestuur.
Die Nederlanders het Robbeneiland dié naam gegee omdat daar baie robbe voorgekom het. Maar die geskiedenis van Robbeneiland strek verder terug as die Nederlandse tydperk toe Jan van Riebeeck in 1652 ’n halfwegstasie aan die Kaap kom stig het.
Duisende jare gelede was Robbeneiland deel van die vasteland. Die oermense kon droogvoets van Tafelberg af soontoe stap! Mettertyd het die stygende seevlak en erosie deur die wind en golwe Robbeneiland van die vasteland geskei.
’N GEVANGENIS
Die Nederlanders het Robbeneiland eerste as ’n gevangenis gebruik. Daar word aanvaar dat Autshomato (ook bekend as Herrie die Strandloper) die eerste gevangene daar was nadat hy aan veediefstal skuldig bevind is.
Later het die Britte tydens hul bewind aan die Kaap (1795-1803 en weer van 1806 af) ook die eiland as ’n gevangenis gebruik.

’N PLEK VIR SIEK MENSE
Omdat die eiland afgesonder is, is “ongewenste”mense tussen 1845 en 1931 daarheen gestuur. Robbeneiland het die tuiste geword van melaatses en geestesiekes. In 1845 is die melaatse gemeenskap van Hemel-en-Aarde naby Caledon na die eiland verskuif.
’N VLOOTBASIS
Ná die Tweede Wêreldoorlog is Robbeneiland as ’n opleidingsentrum vir die vloot gebruik en ’n veerbootdiens tussen Kaapstad en die eiland is ingestel. Mense kon die eiland besoek.
’N POLITIEKE GEVANGENIS
In 1959 is die eiland onder die jurisdiksie van die departement van gevangenisse geplaas en kon die publiek dit nie meer vrylik besoek nie.
Mandela is in 1964 daarheen gestuur nadat hy skuldig bevind is aan sabotasie en hoogverraad. Toestande was moeilik en hy het saam met medegevangenes in die kalksteengroef gewerk. In 1982 is hy na die Pollsmoorgevangenis in Kaapstad oorgeplaas en in 1988 na Victor Verster (nou Drakenstein) in die Paarl. Hy is in 1990 vrygelaat.

ROBBENEILAND VANDAG
DIE VUURTORING
Baie skepe het by Robbeneiland op die rotse geloop; daarom het Van Riebeeck destyds besluit om snags vure op die hoogste punt van die eiland te laat brand om naderende skepe teen die gevaar te waarsku.
Dis Vuurheuwel genoem, maar is deesdae bekend as Minto-heuwel. Die vuurtoring is in 1864 opgerig en het in 1938 elektriese krag gekry. Dis 18 m hoog.
NATUURLEWE OP DIE EILAND
Met Van Riebeeck se koms na die Kaap was pikkewyne en robbe die enigste groterige diere op die eiland. Twee jaar later, in 1654, het koloniste konyne daar losgelaat as ’n bron van vleis vir besoekende matrose.
Hierdie Europese konyne het vinnig aangeteel; katte is toe ook na die eiland gebring en hulle het die konyngetalle in toom gehou.
Die katte het ongelukkig ook kwaai onder die seevoëls gemaai en teen 1800 het die oorspronklike kolonie brilpikkewyne uitgesterf. Intussen is brilpikkewyne (ook bekend as Afrika- of Kaapse pikkewyne) op die eiland hervestig en het die kolonie tot sowat 13 000 aangeteel; dis die derde grootste kolonie van dié spesie.
Die pikkewyne kan van naderby in hul natuurlike habitat gesien word en is ’n trekpleister vir toeriste.
Sedert 1958 is verskeie diere na die eiland geneem, maar omdat die konyne die eiland van plantegroei gestroop het, het ander diere gesukkel om daar te oorleef. Springbokke en bontebokke het gevrek omdat te min groenigheid vir hulle oor was. Drastiese stappe is sedert 2009 gedoen om die konyngetalle in bedwang te kry.
Baie molslange, dassies, springbokke en verskeie voëlspesies leef nou daar. Baie is ook al gedoen om die eiland se ekologie te herstel na hoe dit eeue gelede was en die noordelike deel van die eiland is nou ’n voëlreservaat. Daar is nou ook daaglikse bootritte tussen Kaapstad en die eiland.

!KHOMANI-LANDSKAP (2017)
Die !Khomani- kulturele landskap in die Noord-Kaap is in Julie 2017 tot Suid-Afrika se negende wêrelderfenisgebied verklaar.
Dié woonplek van die !Khomani-San word deur Namibië en Botswana begrens en strek oor die hele Kalahari-Gemsbokpark, wat deel uitmaak van die groter Kgalagadi-wildtuin. Die landskap word gekenmerk deur rooi en geel sandduine.
Die !Khomani-San was die eerste mense van die suidelike Kalahari en kan hul voorvaders tot 150 000 jaar gelede terugvoer.

Hulle is tans die enigste oorlewende inheemse San-gemeenskap in Suid-Afrika, met skaars 1 500 lede van die groep wat verspreid in die Noord-Kaap woon.
Die unieke kultuur van die gebied strek terug tot die Steentydperk en dis veral danksy hul wye kennis van die grond, diere- en plantelewe dat die !Khomani-San geslagte lank in die strawwe woestynklimaat kon oorleef.
Hulle is ook bekend vir hul plantmedisynes. Vorige geslagte was meestal jagter-versamelaars, maar deesdae spits die !Khomani-San hulle meer op toerisme toe – iets waarmee hul nuwe wêrelderfenisstatus sekerlik sal help.