
Maats kan ongelukkig soms ’n slegte invloed op ’n mens hê. Hier’s raad oor hoe jy kan bly vasstaan.
Elke dag moet jy talle besluite neem. Jy moet byvoorbeeld besluit: “Gaan ek vanmiddag my huiswerk doen of nie?” of “Gaan ek die atletiekoefening bywoon of eerder iets anders doen?”
Hoe ouer ’n mens word, hoe moeiliker word die besluite wat jy moet neem. Dit gebeur veral as jy deur ’n groep vriende beïnvloed word om besluite te neem wat jy nie eintlik self sou neem nie.
Die mens is ’n sosiale wese – dit beteken ons wil graag maats hê en met hulle sosialiseer. Soms bring die maats die beste in ons na vore, maar ander kere kan hulle ons aan slegte dinge blootstel.
PORTUURGROEP
Jou portuurgroep is die vriende van min of meer jou ouderdom wat saam met jou op skool is of wat in jou kringe beweeg. Hierdie groep het dikwels ’n groter invloed op jou as wat jy dalk dink.
Dit is eintlik heel natuurlik; selfs jou ouers word aan die menings van hul portuurgroep blootgestel. Jou portuurgroep bepaal baie keer hoe jy in sekere situasies gaan optree.

POSITIEWE GROEPSDRUK
Mense dink gewoonlik alle groepsdruk is verkeerd. Dis gelukkig nie so nie. Vriende en jou portuurgroep kan jou dikwels goeie raad gee.
Hulle kan jou selfs aanmoedig om elke middag jou huiswerk te doen of om aan sport deel te neem.
Dalk bewonder jy ’n vriend wat baie goed vaar in atletiek, of julle gesels lekker op die netbalbaan. Dit kan jou aanspoor om gereeld die sportoefeninge by te woon.
Of miskien is daar iemand wat jou help om ’n moeilike wiskundesom te verstaan.
So ’n situasie kan jou ook aanspoor om jou beste te gee. Dit is alles voorbeelde van positiewe groepsdruk – iets wat ’n goeie uitwerking op jou lewe het en waarby jy as mens baat vind.
NEGATIEWE GROEPSDRUK
Hierdie soort groepsdruk het natuurlik die teenoorgestelde uitwerking as positiewe groepsdruk. ’n Mens hoor gewoonlik ook meer hiervan; daarom kan mense dink alle groepsdruk is verkeerd.
Negatiewe groepsdruk het ’n slegte of nadelige uitwerking op jou. Die gevolg van negatiewe groepsdruk is nie altyd dadelik sigbaar nie, maar mettertyd kan dit ernstige gevolge hê.
So kan ’n vriend jou oorreed om stokkies te draai of om na ’n fliek te gaan kyk wat ’n hoër ouderdomsperk het as dié wat jy mag sien. Hoewel jy weet jy mag dit nie doen nie, wil jy nie jou groep vriende teleurstel nie, en dan stem jy teen jou beterwete in om iets te doen wat jy beslis nie op jou eie sou doen nie.
- Maak ’n lysie van goeie en slegte invloede wat jou vriende al op jou lewe of besluite gehad het.
HOEKOM GEE ‘N MENS AAN GROEPSDRUK TOE?
Jong mense gee aan groepsdruk toe omdat hulle wil voel hulle is lid van ’n groep. Hulle wil ook nie hê hul vriende moet dink hulle is pretbederwers nie.
Vir ander is ’n element van nuuskierigheid by dié oortredings betrokke; hulle wil iets probeer wat hulle nog nie gedoen het nie. Dikwels het dié wat maklik aan groepsdruk toegee, ’n lae selfbeeld. Hulle wil deur ander aanvaar word en ’n samehorigheidsgevoel ervaar.
HOE HANTEER ‘N MENS GROEPSDRUK?
Jy kan “nee” sê. Jy kan van negatiewe groepsdruk wegstap. Dit is belangrik dat jy jouself deeglik ken. Jy moet weet of iets reg of verkeerd is volgens die dinge wat jy geleer is (jou opvoeding).

Jy moet ook jou eie gevoelens en emosies verstaan. Dit is belangrik dat jy weet wat jy ervaar wanneer jy deur ’n groep “gedwing” word om ’n besluit te neem wat nie voordelig vir jou welstand is nie.
Al kan jou besluit jou op daardie oomblik in die oë van die groep ongewild of uncool maak, sal dit op die lange duur tot jou voordeel strek. Dit is hoekom jy dikwels by jou ouers en onderwysers hoor jy moet jou vriende sorgvuldig kies.
Verkeerde vriende kan daartoe lei dat jy verkeerd kies. As jy in die verlede verkeerde keuses gemaak het, kan jy steeds daaroor gaan gesels met iemand wat jy vertrou.
As jy met iemand wil praat oor ’n probleem, bel Kinderlyn gratis by 08000-55-555.
VOEL GOED OOR JOUSELF
Dis altyd lekker om te hoor wanneer iemand iets goeds oor jou sê. Dit spoor jou dan sommer aan om nog beter te vaar en jou sterk punte verder te ontwikkel. So kry jy ’n positiewe selfbeeld.
’n Negatiewe selfbeeld is wanneer jy nie goed voel oor jouself nie en onseker van jouself is. Dit is belangrik dat jy ’n positiewe selfbeeld ontwikkel. Mense met ’n goeie selfbeeld voel gelukkig oor hulself en trek daarom ook ander mense aan.

Hier is wenke wat jou kan help.
Wees jouself! Moenie soos iemand anders probeer wees nie. Waak daarteen dat ander jou beïnvloed om soos hulle te wees.
Spits jou toe op die dinge waarin jy goed is. Dit gee ’n mens selfvertroue. Leer nuwe vaardighede aan en bly oefen daaraan.
Wees optimisties en omring jou met positiewe mense. Bring meer tyd deur saam met vriende wat jou goed laat voel oor jouself. Bly ook eerder weg van diegene wat jou aanspoor om verkeerde dinge te doen waaroor jy later sleg kan voel.
Onthou, almal maak foute. Die kuns is om uit jou foute te leer en nie weer dieselfde fout te begaan nie.
Jy bly op die ou end verantwoordelik vir alles wat jy doen. Dink daarom baie mooi voor jy iets doen en wees trots op dit wat jy reg doen. Probeer om nooit sleg te praat van ander mense nie.