
Die video wys hoe jy moet maak om jou eie boot met ‘n melkbottel te maak.
Wat het jy nodig?
- Leë 2 liter-plastiekmelkbottel
- 1 plastiekjogurtbakkie
- 2 staalboute of 2 klippies
- Stuk hout (1 cm dik en 30 cm lank)
- Tou (60 cm)
- Dun tou (8 cm)
- Wondergom of vormklei
- Gestreepte geskenkpapier
- Tandestokkie
Volg die stappe
Stap 1
Onthou! Vra ‘n volwassene om jou te help.
ROMP: Sny die handvatsel van die bottel af. Sny die helfte van die bottel onder die handvatsel af. Hou die doppie van die bottel op.
Stap 2
MAS: Druk die een punt van die houtstok stewig met ’n ronde bol wondergom of vormklei in die middel
van die bodem van die boot se romp vas.
Stap 3
Vou die tou wat 60 cm lank is in die helfte en bind dit 3 cm van die bopunt van die mas af vas.
Stap 4
Druk ’n klein gaatjie aan die voorkant waar die handvatsel afgesny is en aan die agterkant van die boot. Steek die punte van die tou deur die gaatjies en knoop vas.
Stap 5
KRAAINES: Sny die onderste 2 cm van die jogurthouer af.
Stap 6
Sny ’n opening van 1 cm in die boom van die jogurthouer sodat die mas daardeur kan pas.
Stap 7
Druk die bopunt van die mas deur die opening. Plak die houer met wondergom onder die opening vas
om te keer dat dit afskuif.
Stap 8
BALLAS: ’n Ballas maak ’n skip of boot swaarder en meer stabiel. Plaas die staalboute of klippies aan
weerskante van die mas op die bodem van die boot. Maak dit stewig deur een punt van elke bout of klippie stewig in wondergom of vormklei te druk.
Stap 9
VLAG: Knip ’n driehoek uit die streeppapier. Druk die tandestokkie deur die vlaggie.
Stap 10
Bind die vlaggie met die stuk korter dun tou boaan die mas vas.