IN DIÉ BEWAARPLEKKE LEER ONS VAN DIE MENSDOM SE GESKIEDENIS EN ONS LEEFWÊRELD.
Was jy al ooit in ’n museum? Weet jy wat dit is? ’n Museum is gewoonlik ’n gebou waarin ’n versameling interessante voorwerpe bewaar en ten toon gestel word. Hierdie voorwerpe kan in die natuur gevind word of is waardevolle dinge wat mense gemaak het.
Baie museums spits hulle toe op ’n enkele onderwerp, soos kuns, die wetenskap, kultuur of geskiedenis. Lees hier hoekom dit vir ons belangrik is om dié plekke te besoek en bekyk ’n paar van naderby.
KYK EN LEER
’n Kuiertjie in ’n museum kan ’n lekker ontdekkingstog wees. Ou voorwerpe wat ten toon gestel word, kan jou verbeelding aanwakker of antwoorde verskaf op dinge waaroor jy nog altyd gewonder het.
Hoe het die aarde gelyk toe die dinosourusse of oermense nog met ons was? Hoe het die eerste motors en vliegtuie gelyk? Dit is alles dinge waarop jy antwoorde kan kry deur te gaan na museums met uitstallings van daardie spesifieke voorwerpe.
Museums help ons sin maak van ons eie lewe en geskiedenis. Hulle brei ook ons kennis van die wêreld uit.
ONS RYK ERFENIS
Suid-Afrika het baie museums met verskillende temas. Sommige konsentreer op die oergeskiedenis omdat ons land aan die voorpunt staan van die opgrawing van die fossiele van primitiewe mense.
Die Maropeng-besoekersentrum in die Wieg in die Mensdom en die Oorsprongsentrum by die Universiteit van die Witwatersrand in Johannesburg is goeie voorbeelde hiervan.
Verskeie museums, soos die Suid-Afrikaanse Nasionale Museum van Militêre Geskiedenis in Johannesburg en die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein handel oor ons land se strugglegeskiedenis.
Ons kan daar meer leer oor die vernietigende uitwerking van oorlog en hoe dit menselewens geraak het.

Die moderne geskiedenis en apartheid, die land se rassepolitiek van vroeër, word in talle museums uitgebeeld.
Daar is die Apartheidmuseum in Johannesburg, die Hector Pieterson-museum in Soweto, die Distrik Ses- en Robbeneiland-museum in Kaapstad en die Rooi Lokasie-museum in Port Elizabeth.
Sommige museums, soos die Suid-Afrikaanse Joodse Museum in Kaapstad, die Voortrekkermonument met sy aangrensende museums in Pretoria en die KwaZulu- Kulturele Museum by Ondini, Ulundi, verbreed ons kennis oor die kultuur van spesifieke Suid-Afrikaanse groepe.


As jy hou van dinge wat ry, vaar en vlieg, moet jy een van die baie vervoermuseums in ons land gaan besoek.

As jy hou van dinge wat ry, vaar en vlieg, moet jy een van die baie vervoermuseums in ons land gaan besoek. Die Franschhoekmotormuseum bevat allerhande mooi ou karre en die James Hall-vervoermuseum in Johannesburg het ’n ietsie van alles. In die Port Natal- Maritieme Museum in Durban kan jy meer te wete kom oor skepe.
Jy kan selfs op hulle rondklouter. In Port Elizabeth, Pretoria en Kaapstad kan jy ook na die Suid-Afrikaanse Lugmagmuseum se vliegtuiguitstallings gaan kyk.
OOR DIE WATERS
Kom ons kyk na twee internasionale museums wat van groot belang is.
SMITHSONIAN INSTITUTE
Amerikaners kan gratis besoek aflê by die 18 museums, galerye en tuine en een dieretuin van die Smithsonian.
Daar is onder meer museums wat hulle toespits op Afrikakuns, inheemse Amerikaanse kultuur, lug- en ruimtevaart, Amerikaanse kuns en geskiedenis, ’n museum van die posdiens en ’n natuurhistoriese een.
Dié plekke bevat voorwerpe van onskatbare waarde, soos viole wat deur die Italianer Antonio Stradivari gemaak is.
Die uitstallings van rokke wat deur Amerikaanse presidentsvroue gedra is, is baie gewild.
Daar is ook mummies en dinosourusse. Meer as 155 miljoen voorwerpe word in die museums bewaar en ongeveer 30 miljoen mense besoek dit jaarliks.
VIND NOG UIT si.edu


LOURVE MUSEUM
Die Louvre in Parys is die wêreld se grootste kunsmuseum. Die gewildste skildery daarin is die sowat 500 jaar oue Mona Lisa, wat Leonardo da Vinci geskilder het.
Daar is kosbare skilderye en standbeelde van deur die eeue heen. Meer as 7 miljoen mense besoek die Louvre elke jaar.
VIND NOG UIT louvre.fr


VIND NOG UIT
MAROPENG, CRADLE OF HUMANKIND
Visit their website
Die Maropeng-besoekersentrum is op Sterkfontein geleë. Die sentrum spits hom toe op die oorsprong van moderne mense in Afrika. Dit is baie gewild onder gesinne en skole omdat die ontwikkeling van die mens op ’n prettige manier met interaktiewe uitstallings en speletjies uitgebeeld word.
ROBBEN ISLAND MUSEUM
Visit their website
Om die Robbeneilandmuseum te besoek, moet ’n mens van Kaapstad se V&A Waterfront met ’n boot na die eiland vaar. Dit is hier waar ons eerste demokraties verkose president, Nelson Mandela, 18 jaar lank ’n politieke gevangene was.
ANGLO-BOER WAR MUSEUM
Visit their website
Hierdie museum in Bloemfontein leer ons met ’n besonderse versameling kuns, kykkaste en uitstallings teen watter agtergrond die Tweede Vryheidsoorlog uitgebreek het. Die oorlog se vordering en die lyding van die mense word ook uitgebeeld.
IZIKO SOUTH AFRICAN MUSEUM
Visit their website
Die oudste museum in Suid-Afrika is in 1825 gestig. Dis in Kaapstad geleë en bevat meer as 1,5 miljoen monsters van wetenskaplike belang. Daar is fossiele wat miljoene jare oud is, klipgereedskap van sowat 120 000 jaar gelede en tradisionele klere van meer as 100 jaar gelede.
THE SA JEWISH MUSEUM
Visit their website
Dié museum in Kaapstad leer ons van die Jode se onderdrukking in Europa en hoe hulle ’n groot bydrae gelewer het tot Suid-Afrika se ontwikkeling. ’n Lewensgroot model van ’n Joodse dorpie is veral gewild onder kinders. Ons land se eerste sinagoge, navorsingsgeriewe en ’n sentrum oor die Joodse volksmoord is ook hier geleë.
JAMES HALL MUSEUM OF TRANSPORT
Visit their website
In dié vervoermuseum by Wemmerspan in Gauteng kan jy sien hoe jou oupagrootjiehulle rondgery het. Daar is voorbeelde van voertuie wat deur diere getrek is, outydse fietse, motorfietse, busse, trems, motors, brandweerwaens, stoomvoertuie en selfs die lemoenvormige motortjie wat die vrugtemaatskappy Outspan in die vroeë 1970’s vir reklame gebruik het – dit is meer as 40 jaar gelede!

