Om jou emosies te beheer, is dit belangrik om dit eers te verstaan. Ons leer jou meer.

Woede, angs, opwinding en blydskap is van die baie emosies wat ons kan ervaar. Party kenners sê daar is 34 000 emosies. Emosies (dit wat ons voel) verander gedurig en is ingewikkeld.

Met soveel emosies is dit verstaanbaar dat ’n mens nie net sukkel om te weet watter een jy ervaar nie; jy sukkel ook om die een wat jy voel te beheer.

Emosies kan veroorsaak word deur ’n gedagte (interne stimulus) of ’n reaksie op iets wat met ons gebeur (eksterne stimulus) en dis dikwels die dryfkrag agter ons aksies, maak nie saak of dit positief of negatief is nie.

Emosies is interne skakelaars wat ons tot aksie laat oorgaan. Ons denke volg kort op die hakke van emosies. Ons voel eers, dan dink ons.

Emosies word geaktiveer om oorlewingstaktieke soos die veg-vlug-of-vriesreaksie te ontlok. Dit gebeur op ’n onbewustelike vlak.

In Amerika het die sielkundige dr. Robert Plutchik navorsing oor emosies gedoen, en hy sê daar is agt basiese of primêre emosies, naamlik vreugde, hartseer, vertroue, walging, vrees, woede, verrassing en afwagting. Volgens hom vorm dié agt die basis vir al die ander emosies.

NEGATIEWE EN POSITIEWE EMOSIES

Emosies kan in twee groepe verdeel word, naamlik negatiewe emosies, wat hartseer, walging, woede en vrees insluit, en positiewe emosies soos vreugde, vertroue, verrassing en afwagting.

is noodsaaklik vir die mens se oorlewing. Kyk gerus na Disney-Pixar se 2015-animasieprent Inside Out. Dit gaan oor ’n meisie wat sukkel om haar emosies te hanteer toe haar gesin na ’n groot stad toe trek.

In die fliek is die getal emosies vereenvoudig tot vyf: vreugde, hartseer, vrees, woede en walging. Dis ’n oulike manier om die konsep van verskillende emosies te verstaan en ook hoe hulle met mekaar in konflik kan kom.

Dit is belangrik om jou eie en die emosies van ander te kan identifiseer en te verstaan sodat jy reg daarop kan reageer. Gelukkig kan ’n mens hierdie vaardighede aanleer, en dit kan jou selfs help om ’n goeie vriend te wees.

As een van jou vriende byvoorbeeld hartseer is, kan jy met hom praat en hom troos.

Die animasiefliek Inside Out van Disney-Pixar kan jou help om die konsep van verskillende emosies te verstaan. © Disney- Pixar. Alle regte voorbehou

HOE ONTSTAAN EMOSIES?

Die brein speel ’n belangrike rol in die emosies wat jy ervaar. Die brein is ’n ingewikkelde orgaan, maar die deel wat ’n rol speel in jou emosies en liggaamlike reaksies op gevoelens is in die limbiese brein en breinstam geleë.

Jou limbiese brein is in die onderste deel van die brein.

“Dink aan jou brein as ’n dubbelverdiepinghuis met ’n onderste en boonste vloer,” sê Claudia Roodt, ’n traumaterapeut en adviseur vir die 1 000 Women Trust in Kaapstad.

“Jou brein het ’n onderste en boonste deel. In die boonste brein vind beplanning plaas, en jy neem ook hier jou besluite. Hierdie deel van die brein is belangrik vir leer en taal. Spraak word hier gevorm en jou emosies word ook hier beheer – dit is die korteks.”

Wanneer ons sukkel om ons emosies ’n naam te gee, kan dit tot onsekerheid, stres en angs lei. Wanneer dinge onbekend is en ons onsself in ’n vreemde situasie bevind, skop ons veg-, vlug-of vriesreaksie in.

Elke mens tree verskillend op, en afhangend van die situasie kan die emosie baie intens wees.

Wanneer jy angstig raak of stres ervaar, reageer jou liggaam en senuweestelsel eerste. As dit jou oorweldig, kan die boonste brein nie funksioneer nie, wat beteken jy kan jouself nie behoorlik kalmeer nie.

Die wêreldwye covid-19-pandemie maak talle mense – kinders sowel as volwassenes – baie angstig en veroorsaak ongekende druk in huisgesinne en gemeenskappe. Ons moet daarteen waak dat ons emosies die oorhand in ons gedagtes en lewe kry. Emosies kom blitsvinnig en kan tot oorhaastige dade lei waaroor ons later spyt kan wees.

LINKS: Maak seker jy deel jou emosies met goeie vriende of familie sodat jy nie oorweldig voel nie. REGS: Die onsekerheid rondom die covid-19- pandemie het tot frustrasie en aggressie gelei. Foto’s: Gallo Images/Getty Images

TEGNIEK OM STRES EN ANGS TE HANTEER

Hierdie tegniek help jou om te fokus, en dit laat jou liggaam en onderste brein kalmeer sodat jy die emosie ’n naam kan gee en dit dan hanteer.

Maak so:

  • Staan of sit met albei voete op die grond.
  • Maak jou oë toe en haal drie keer diep vanuit jou maag asem.
  • Maak jou oë weer oop en noem vyf dinge op wat jy kan sien, vier wat jy kan hoor, drie wat jy kan ruik, twee wat jy kan voel en een wat jy kan proe.

Om al jou emosies te ontdek en baas te raak is ’n lewenslange proses en jy gaan foute maak. Jy gaan ook heerlike emosies ervaar, en met die hulp van jou ouers, vriende en onderwysers is die reis een groot ontdekkingstog.

RAADOP MET EMOSIES? HIER’S PRAKTIESE WENKE

HET JY GEWEET? As jy met ’n probleem sukkel en jy wil graag hê iemand moet jou daarmee help, kan jy Childline se hulplyn bel by 08000-55-555. Daar is iemand wat jou wil help.

  • Praat met ’n vriend. Om met vriende te gesels gee perspektief, en as hulle dieselfde ervaar het, kan jy uit hul ervarings leer.
  • Maak seker jy eet gesond, doen oefening en kry vars lug en genoeg slaap. Om goed te voel en gesond te wees help jou om jou emosies makliker te hanteer.
  • Vermy dit om te eet as jy bekommerd is of angstig voel. Jy hanteer nie die emosie nie, maar fokus eerder op eksterne en tydelike verligting.
  • Ken jouself. Verskillende persoonlikhede hanteer emosies op verskillende maniere. Vind uit wat jou persoonlikheidstipe is.
  • Skryf jou gevoelens en bekommernisse neer. Wanneer jy skryf, orden jy jou gedagtes. Dit is soms al wat nodig is om jou emosies te verstaan of dit ’n kans te gee om uit te woed.
  • Kry hulp as dinge te veel raak. Praat betyds met iemand. As jy nie met jou ouers of huisgesin kan gesels nie, praat met ’n onderwyser of ander volwassene wat jy vertrou.
  • Leer om nee te sê. Moenie te veel hooi op jou vurk laai nie – dit kan tot angs en depressie lei. Maak seker jy het genoeg tyd om take deeglik en rustig uit te voer voor jy nuwe projekte aanpak.
  • Hou jou kamer en leefarea netjies. Maak jou bed op en jou vensters oop. ’n Deurmekaar ruimte kan jou eie asook die stresvlakke van jou gesin opstoot. ’n Netjiese leefruimte kan help om stres te verminder en jou emosies in beheer te hou.
TEKS: CUM LAUDE MEDIA; BRONNE: INTENTIONALMARRIAGES.NET; JW.ORG; WIEISEK.CO.ZA; POSITIVEPSYCHOLOGY.COM; COPINGSKILLSFORKIDS. COM; BLISSFULKIDS.COM; MOMENTOUSINSTITUTE.ORG, PLATINUM LEWENSVAARDIGHEDE GRAAD 5, MASKEW MILLER LONGMAN, HOOFSTUK 3, HANTEER EMOSIES; ONDERHOUD: CLAUDIA ROODT, DESIGN TO CONNECT & 1 000 WOMEN TRUST-TRAUMABERADER