Seevaart is vandag nog net so belangrik soos in die ou dae

Dis baie interessant om vir ’n rukkie die bedrywighede by ’n besige hawe te staan en dophou. Daar is groot skepe wat motors en ander vragte vervoer, kleiner vissersbote, seiljagte waaropmense vakansie hou en selfs af en toe yslike passasierskepe.

Dié vervoermiddel is een van die oudstes wat daar is. Dit het ’n yslike rol gespeel in die ontwikkeling van diemenslike beskawing omdat mense danksy skeepvaart vinniger oor water kon reis as oor land. Dit het oorlogvoering, handel dryf en visvang verbeter.

Ons kyk na die belangrikste ontwikkelings in die geskiedenis van skeepvaart.

VROEË SKEPE

DIE HEEL EERSTE BOTE 

On the Shore of the Lake – Kutena

Dis baie moeilik om presies te sê hoe oud skeepvaart is.Die vroegste mense sou enige dryfbare materiaal kon gebruik omoor die water te vaar. Vlotte van stompe en bamboes was dus heel moontlik die eerste vaartuie.

Inheemse bevolkingsgroepe van Noord-Amerika (Inuïete en Aleoete) het waarskynlik van die eerste regte bote gehad. Vir hul kajakke het hulle ’n raam van stokke of walvisbeen gebou en dit met diervel bedek. Elders het mense boomstompe uitgehol om in te vaar. Roeispane het hande vervang sodat roeiers vinniger en verder kon beweeg.

Die koms van die seil soos dit in Egipte gebruik is, was ’n groot ontwikkeling. Die eerste seile is gemaak sodat vaarders windaf kon seil. Seile is later verbeter sodat ’n mens ook windop kon seil.

ANTIEKE TYE

Skeepvaart het heel moontlik min of meer dieselfde tyd in verskillende wêrelddele (soos Asië en Egipte) ontwikkel. Die vroeë beskawings in Egipte en Mesopotamië het bote as vervoermiddel op die Nyl-, Eufraat- en Tigrisrivier gebruik.

Omdat Egipte boonop langs die see lê, is groter seebote ook gebruik. Een van die vroegste bekende bote, die Choefoe, is langs ’n piramide by Giza begrawe. Hierdie boot dateer van omstreeks 2600 v.C.

Teen omstreeks 1100 v.C. het die Fenisiërs aan die ooskus van die Middellandse See die toonaangewende skeepvaarders geword. Hulle het die bootvorm van die voorafgaande Egiptiese, Babiloniese en Assiriese beskawings aangepas en ’n lang, smal boot ontwikkel. Hierdie bote was makliker om te stuur en die Fenisiërs kon verder vaar aswat voorheen moontlik was.

Dié bote is deur mannekrag gestuur, soos ook die Romeinse en Griekse bote wat daarna gekom het. Dit was omdat hierdie lande slawe gehad het wat kon roei. Dit was ook in die tyd van die Fenisiërs, Romeine en Grieke dat skepe ál belangriker geword het vir oorlogvoering. Dit het onder meer ’n stormram gehad om kliphard in ’n vyand se skip vas te roei – amper soos stampkarretjies! 

The Khufu
Viking Ship

Van die sewende eeu tot omstreeks 1000 n.C. was dit veral die skepe van Noord-Europa wat baie gewild was, soos dié van die Wikings. Hierdie vaartuie was steeds oop skepe met hoë, gepunte voor- en agterkante. Die Wikings het meestal eikehout gebruik en die planke bo-oor mekaar gepak, byna soos dakteëls. Hierdie tegniek het tot in die 15de eeu die standaard vir groot skepe gebly.

SKEPE VIR ONTDEKKING

Christophe Colombus: Santa Maria, Pinta & Nina.

Omstreeks 1450 is skepe in Europa volgens ’n nuwe tegniek gebou. Die planke was glad en het mekaar nie oorvleuel nie. Ál meer skepe het ook drie maste gehad, elk met seile. Ontdekkingsreisigers soos Christophorus Columbus en Vasco da Gama het met sulke skepe gereis.

Drommedaris

Omdat die skepe soveel groter was, het dit nie meer sin gemaak om hulle met mannekrag te laat voortbeweeg nie. Die skepe wat deur die ontdekkingsreisigers en setlaars van Nederland, Engeland, Frankryk, Spanje en Portugal gebruik is, het net seile gehad.

Seilskepe het die wind gebruik – ook om teen die wind te vaar. Jy moes jou storie ken om ’n skip so te stuur: Skepe het in ’n sigsagpatroon skuins teen die wind gevaar en dan weer skuins na die ander kant.

Dit het beteken skepe kon vorder ongeag in watterrigting die wind waai en mense kon die planeet verder verken. Dit het gelei tot die groot ontdekkingsreise van die 15de en 16de eeu. Namate Europese setlaars in kolonies oor die wêreld heen gaan woon het, het dié soort houtskepe versprei.

THE SUEZKANAAL

DIE KOMS VAN ENJINS

Skepe en hul enjins is deurentyd verbeter. Later is stoomenjins (wat steenkool nodig gehad het) ook vervang deur olie- of dieselenjins. 

Vandag is skepe nie meer so ’n gewilde vervoermiddel vir mense nie, want vliegtuie is veel vinniger. Hulle speel egter steeds ’n belangrike rol in wêreldhandel deur goedere soos landbou-, mynbou- en vervaardigde produkte, asook gas en olie oorsee te vervoer.

’n Fransman, Denis Papin, het in 1679 sy eie stoomverwerker ontwerp en dit suksesvol gebruik om met ’n boot op ’n rivier in Wes-Duitsland te vaar. Dit word beskou as die voorloper van die moderne stoomenjin.

Die Newcomen-enjin van 1712, wat deur die Brit Thomas Newcomen uitgevind is, is beskou as die eerste praktiese apparaat wat die krag van stoom kon inspan om meganiese werk te verrig. ’n Skot, James Watt, het dié enjin in 1781 verander dat dit 75 persent minder steenkool gebruik het. Die uitvinding van stoomenjins het gelei tot die bou van stoomskepe en word ook met die begin van die Nywerheidsrevolusie verbind.

In 1819 was die Savannah die eerste stoomaangedrewe vaartuig wat die Atlantiese Oseaan oorgesteek het. Dit het’n kombinasie van wind- en stoomkrag gebruik. Die eerste stoomskip wat van Engeland na Kaapstad gevaar het, was die Enterprise in 1825 en het ook seile en stoom gebruik.

Die Kanadese stoomskip die Royal William was die eerste stoomskip wat met byna net stoom die Atlantiese Oseaan oorgesteek het.

Skeepvaart het by die ontwikkeling van die stoomenjin baat gevind, want:

  • Die vaartyd van skepe was nou korter
  • Die verwagte tyd van aankoms kon beter bepaal word
  • Groter en swaarder vragte kon verskeep word
  • In- en uitvoerhandel het toegeneem
Harbour used for cargo ships
Evolution of cruise ships

VROEË HANDELSROETES

Seehandelsroetes het voor Christus al ontwikkel. Die Wierookroete het Indië, die Arabiese Skiereiland en OosAsië tussen 300 en 200 v.C. verbind. 

Die Syroete was hoofsaaklik ’n roete oor land van die Verre-Ooste na die Middellandse See-gebied. 

Die handel langs hierdie roete het in die Middeleeue afgeneem toe seevervoer belangriker geword het en skepe het toe ’n roete langs die kus van Asië en oor die Rooisee na die Middellandse See gevolg.