
Ons leer jou meer oor vyf van die agt metropole van Suid-Afrika en wat elkeen uniek maak.
In Suid-Afrika se agt kategorie A-munisipaliteite sal jy ons land se grootste stede volgens die grootte van hul bevolking aantref. Hierdie metropolitaanse munisipaliteite behels dorpe en stede wat saamsmelt en tot een enorme, digbevolkte megastad groei.
Buiten die metropolitaanse gebiede word die res van die land gesamentlik deur distriks- en plaaslike munisipaliteite bestuur. Elke distriksmunisipaliteit (kategorie C) is verdeel in ’n aantal plaaslike (kategorie B-) munisipaliteite.
Benewens die agt metro’s is daar 44 distriksmunisipaliteite wat in 205 plaaslike munisipaliteite verdeel is.
Ons bekyk vyf van ons groot metropole van naderby. Buffalo City en Mangaung was eers plaaslike munisipaliteite wat in 2011 tot metro’s verhef is. Hulle word net terloops hier genoem.

Suid-Afrika se agt metropole is:
Die Stad Johannesburg
Die Stad Kaapstad
Die Stad eThekwini (Durban)
Die Stad Ekurhuleni (Oos-Rand)
Die Stad Tshwane (Pretoria)
Nelson Mandelabaai (Gqeberha)
Buffalo City (Oos-Londen)
Mangaung (Bloemfontein)
STAD KAAPSTAD
- Bevolking: 4 miljoen
- Grootste tale: Afrikaans, Xhosa en Engels
- Area: 2 445 km2
Kaapstad is Suid-Afrika se naasgrootste ekonomiese sentrum en ná Johannesburg die stad met die tweede grootste bevolking. Dit is die provinsiale hoofstad van die Wes-Kaap, maar ook die wetgewende hoofstad van Suid-Afrika waar die nasionale parlement en baie regeringskantore is.
Kaapstad het in 1652 tot stand gekom en is die oudste stad in die land; dit staan om dié rede ook as die Moederstad bekend. Die stad is bekend vir sy hawe, asook sy ongelooflike ligging in die asemrowende Kaapse floraryk, wat deur Unesco tot Wêrelderfenisgebied verklaar is.
Bekende bakens soos Tafelberg met sy kabelspoor en Kaappunt word hier aangetref.
Kaapstad word wêreldwyd as een van die mooiste stede beskou. Die Mediterreense klimaat, wyn en geskiedkundige geboue is net ’n paar aanloklikhede. Die Victoria & Alfred Waterfront met sy winkels, restaurante en bootvaarte – onder meer na die historiese Robbeneiland – is die mees besoekte bestemming in die stad.

ETHEKWINI
- Bevolking: 3,7 miljoen
- Grootste tale: Zoeloe en Engels
- Area: 2 291 km2
eThekwini (“plek van die baai” in Zoeloe) is die derde grootste metropool in die land en sluit die stad Durban en omliggende voorstede in.
Durban, wat in 1880 tot stand gekom het, is genoem na ’n Britse goewerneur van die Kaapkolonie, sir Benjamin D’Urban.
Die inwoners van dié stad vorm ’n uiteenlopende samelewing. Zoeloes tel as die grootste groep, maar daar is ook groot gemeenskappe van Britse en Indiese afkoms. Die Indiërs het die stad verryk met hul besonderse kultuur, godsdienstige oortuigings en veral geurige kossoorte.
’n Plaaslike gunstelinggereg is bunny chow, ’n uitgeholde stuk brood wat met kerrievleis of -bone gevul word.
Mohandas Gandhi, die leier van die Indiese onafhanklikheidsbeweging, het sy politieke loopbaan in eThekwini begin.
Die metro is die tuiste van Afrika se besigste hawe, en eThekwini se subtropiese klimaat en strande lok jaarliks baie toeriste. Dis ook die tuiste van uShaka Marine World, Afrika se grootste mariene temapark, wat oor 15 ha strek. Dit bevat die wêreld se vyfde grootste akwarium en is aan die einde van die stad se beroemde Goue Myl geleë.

EKURHULENI
- Bevolking: 3,4 miljoen
- Grootste tale: Zoeloe, Engels, Afrikaans en Noord-Sotho
- Area: 1 975 km2
Die naam van die Stad Ekurhuleni beteken “plek van vrede” in Tsonga. Dis een van drie metropolitaanse munisipaliteite in Gauteng en is ook bekend as die Oos-Rand.
Ekurhuleni is die tuiste van Suid-Afrika se grootste lughawe, die OR Tambo Internasionale Lughawe, in Kempton Park. Meer as 99% van die bevolking in dié metro is verstedelik, wat beteken daar is nie juis meer landelike buitewyke oor nie.
Nogtans is Ekurhuleni nie volkome ’n betonoerwoud nie. Daar is pragtige vleilande, mere en stil natuurreservate wat ’n kontras vorm met die stad se blink casino’s en reusagtige winkelsentrums.
Die voorstad Springs het die tweede grootste versameling art deco-geboue ná Miami, Florida. Geboue in hierdie unieke boustyl is tussen die twee wêreldoorloë gebou. Ekurhuleni het die Chris Hani-gedenkterrein in 2017 in die Thomas Nkobigedenkpark in Boksburg onthul.
Dit was op die 22ste herdenking van die skietdood van Chris Hani, ’n vryheidstryder en leier van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party. Dit behels ’n monument, gedenkstaproete en die gedenkmuur wat hulde bring aan die gebeure, plekke en mense wat met die vryheidstryd in Suid-Afrika vereenselwig word.

TSHWANE
- Bevolking: 3,3 miljoen
- Grootste tale: Noord-Sotho, Afrikaans, Tswana, Tsonga en Engels
- Area: 6 298 km2
Die Stad Tshwane is Suid-Afrika se hoofstad en sy grootste metro wat grondoppervlakte betref. Dit sluit in die stad Pretoria, wat na die Voortrekker Andries Pretorius genoem is, en omliggende dorpe.
Tshwane beteken “Ons is dieselfde” in Tswana. Meer as 135 ambassades en diplomatieke sendings is in die hoofstad teenwoordig. Hier sal jy ook kultuurdinge soos indrukwekkende argitektuur – byvoorbeeld die Uniegebou en Voortrekkermonument – en museums aantref.
Dis ook ’n akademiese stad met vier universiteite – onder meer die Tshwane-universiteit van Tegnologie. Hierdie metropool is boonop ’n ekonomiese dryfkrag wat byna 10% tot ons land se ekonomiese produksie bydra.
Pretoria word ook die Jakarandastad genoem. Van September tot November blom die sowat 65 000 jakarandabome in Tshwane en verkleur die stad pragtig pers. Die boom is nie inheems nie; dit is in die 19de eeu uit Suid-Amerika ingevoer.
Owerhede het besluit om nie dié geliefde bome uit te roei nie, maar die kweek en aanplant van nuwe bome te verbied. Dit beteken oor ’n eeu of twee sal daar nie meer pers jakarandabloeisels in die hoofstad wees nie.

NELSON MANDELABAAI
- Bevolking: 1,3 miljoen
- Grootste tale: Xhosa, Afrikaans en Engels
- Area: 1 959 km2
Nelson Mandelabaai, saamgestel uit Gqeberha (voorheen Port Elizabeth), Kariega (voorheen Uitenhage) en Despatch, is die enigste metro wat by oudpres. Nelson Mandela toestemming gekry het om sy naam te dra.
Die metro sê hy streef daarna om die “gees van vryheid” te bevorder wat uit die lewe van Madiba gestraal het. Baie mense kort die naam van dié metro in die Oos-Kaap sommer af tot “die Baai”.
Die Baai is ’n belangrike hawestad en vervaardigingsentrum vir die motorbedryf. Die stad se Coega-nywerheidsontwikkelingsone is langs ’n diepwaterhawe, die Ngqura-hawe, en strek oor 110 km².
Die Nelson Mandelabaai-metro spog ook met die Gqeberha-hawe. Twee hawens en groot ekonomiese moontlikhede kan vorentoe vir ongekende groei in dié stad sorg. Die stad bied ook ander interessanthede, soos die Donkin-reservaat.
Dis ’n klein park wat sir Rufane Donkin, die destydse waarnemende goewerneur van die Kaapkolonie en stigter van die stad, in 1820 laat aanlê het. ’n Piramiedvormige gedenkteken huldig Donkin se vrou, Elizabeth, na wie hy die stad genoem het. ’n Vuurtoring wat uit 1861 dateer, huisves die toerismeburo.
